Tuesday 17 November 2009

My kop R(a)as, Dumisani!

Kyk, nou rafel dinge heel te mal uit. Ek kon nog die weekspan van die Bokke se verloor teen die Tiere hanteer. Daar is immers iets spesiaal daaraan wanneer die beste span in die wêreld bloedneus geslaan word deur ‘n buiteperd. Dis soos daai keer toe my laerskool vriend Pietman (tans ‘n kranige musikant met die naam Peter Mitchell) die plaaslike boelie tydens pouse bygedam het. Die boelie het na die tyd gekla dat ou Pieta vuilgespeel het, dat die turf waarop hulle gestoei het ongelyk was en dat dit tog beter sou gewees het om eerder na skool te baklei as tydens pouse. Ons almal het egter geweet dat dit flou argumente van ‘n sleg verloorder was en dat Pietman se sogenaamde “lucky” linker op enige ander dag die boelie met sy logge liggaam ter helle sou laat neerdaal het. Pietman was sedertdien my “hero”.

Dus het ek in teorie nie ‘n probleem met die weekspan se loesing nie.

Maar toe gebeur laas Vrydagnag.

Hier is soos ek dit vaagweg kon onthou:

21:20: Ons kyk die wedstryd by die naaste kroeg met ‘n “big screen”, die plek is stampvol en ek bestel ‘n Guiness draft.

21:23 Iewers in die wandelgange van Toulouse stadium rook ‘n ene Ras Dumisani vir oulaas ‘n zol voordat hy die skare moet vermaak met ‘n lied wat hy op laerskool laas gesing het.

21:27: ‘n Oorhaastige kelner bring vir my ‘n warm Black Label in ‘n glas. Ek roep agterna, maar hy hoor nie.

21:28: Ek sluk langtand aan my bier en liplees vir John Robbie en Naas Botha terwyl die plaaslike plateknaap hard probeer om ‘n lee dansbaan ‘n eerbare dood te laat sterf.

21:33 Die hele kroeg staan op aandag vir die sing van ons volkslied. Iets moet fout wees met die opvangs, want dit klink dan nou nie soos Nkosi nie.

21:35 Die meeste van ons gaan sit en wonder wat de dinges sopas gebeur het. Die kamara fokus in op Brian Habana en Schalk Burger wat dieselfde skaapuitdrukking as die res van ons het.

Die res van die aand onthou ek soos ‘n nagmerrie waar dinge dof en vaag is en al wat jy oorhou daarvan is die sweet en hartkloppings en die vae gesigte van drogbeelde wat op jou jag maak. Ek onthou die afskop, maar ek kan nie onthou of ons die bal gevang het nie. Al wat ek sien is blou truie wat oor groen truie hardloop en iewers blaas die skeidsregter sy fluitjie vir nog ‘n strafskop teen ons. Dan sien ek vir Morne Steyn wat die bal teen Beast se kop vasgooi. Dan nog ‘n omgekeerde balbesit en die Franse wat ons terugstuur na ons kwartgebied toe. Bakkies bloei. Dan hoor ek weer die Rasta in my kop iets sing wat in ‘n vorige leeftyd ‘n volkslied was. Dan skop ‘n Morne ‘n tweede keer pale toe, dis oor. John Smit “score”! Die Franse laat nie op hul wag nie en hardloop ons dronk soos net ‘n Fransman kan, hulle druk in die hoekie. Dan kry Morne ‘n geel kaart. Of het ek daardie deel gedroom? Moes wees. Dumisani raas nogsteeds...

Halftyd: Bokke 13, Frankryk 11

Zane Kirchsner skop af, dis te ver, ons moet skrum. Waar is Morne? Hel, dit was toe nie ‘n droom nie! Hier kom iets in die lyn van die storm van die Bastille. Nog ‘n starfskop teen ons. Pale toe. Dis oor. Ons loop agter. Die tafel langs my vloek soos matrose, hulle wonder waar ons “forwards” is, iemand roep desperaat dat Bakkies tog die ref sal bliksem, die Bokke kan met 14 man regkom. Speel ons nie al reeds met 14 man nie? Tyd raak nou min. Daai reuse Fransman met die hare en die baard wat lyk soos Moses op steroides is op die veld. Hy lyk wild. Hel, hulle almal lyk wild! Ons lyk soos ‘n spul bankamptenare op ‘n Maandagoggend in die hoogbloei van die resessie. Morne is terug op die veld. Schalk is beseer! Nog ‘n geel kaart, die Shark met die Russiese van is koelkas toe. Strafskoppe by dosyne! Ek sweer die ref is teen ons. Ons gaan nie hierdie een wen nie. Ons speel boonop teen die wind ook, dit waai rof, mens kan dit aan Wynand Olivier se hare sien. Waar hét hulle aan daai rasta gekom? My kop sing nogsteeds. Strafskop, hierdie keer vir ons. Morne wys hy gaan aanlê pale toe, dis ‘n “sure thing”, daar is nog hoop. Die bal woer-woer links verby, dis wragtag mis! Die eindfluitjie blaas. Ek is al in my kar. Die halwe glas Black Label word onseremonieel deur die kelner kombuis toe gedra.

Die lewe gaan soomloos voort.

Maar ek voel soos daai boelie, my neus bloei. Bleddie ref, lang seisoen, die ouens is moeg man en wie kan nou in elk geval konsentreer op die spel as jou kop raas met die vals klanke van ‘n Bob Marley “wannabe”.

Wednesday 21 October 2009

Boksies

Die ander dag sit ek in ‘n koffiewinkel en lees. ‘n Tannie stap toe nader, kyk my so op en af en kondig luidkeels aan: Jy lyk darm regtig nie soos ‘n dominee nie.Vir ‘n oomblik was ek onseker of sy dit as ‘n kompliment of kritiek bedoel het. Wat ek wel weet van haar opmerking weet is dat dit gelaai is met stereotipes. Sy het ‘n spefieke verwagting van hoe ‘n predikant moet lyk wanneer hy by ‘n koffiewinkel sit en lees en dis duidelik dat ek nie aan haar verwagtings voldoen het. Daar is deur die jare ‘n paar stereotipes rakene predikante opgebou en die tannie sien weining daarvan in my. Dit geld egter nie net vir predikante nie, noem nou maar enige manier van menswees en iemand gaan ‘n bepaalde stereotiepe daaraan heg. Van mechanic tot prokereur, van doktor tot skoonmaker, van onderwyser tot orrellis. Zulu, Xhosa, Afrikaner. Ryk en arm, geleerd of ongeleerd. Bruin of wit, Afrikaans of Engels. Gelowige of ongelowige. Al hierdie name skep sekere prentjies in mens se gedagtes en maak bepaalde verwagtinge in mens los.

Wanneer ons egter kyk na die stories wat vertel word oor die groot geeste van toeka tot nou, sien ons keer op keer mans en vroue wat teen die stroom op, die stereotipes van hul konteks afbreek en in die plek daarvan ‘n nuwe manier van menswees vir die res van ons wys. Van Ghandi tot Mohammed, van Buddha tot Moeder Theresa, van Che Quervo tot Madiba, van Koos Kombuis tot Nataniel, van Aardsbiskop Tutu tot daai apartheidsomie wat deesdae swartmense se voete was, almal mense wat op hul eie unieke manier die vooroordele van mense trompop loop.

Een van my gunsteling stories van een van hierdie tydlose geeste is die een waar ‘n Samaritaanse vrou met ‘n baie agterdogtige reputasie vir Jesus op ‘n snikhete Midde-Ooste middag by ‘n waterput ontmoet. Dis net hulle twee. Dis heel te mal ongehoord. As die kerkmense hiervan sou hoor, sou die tonge los wees.

En dan begin Jesus met haar gesels. Sy reageer met skok en verbasing: “Hoe vra wat ‘n Jood is, vir my, ‘n Samaritaanse vrou water om te drink?” Jesus is besig om die sosio en religiuese gedragskodes van sy Joodse identiteit te ondergrawe. Hy kan in groot moelikheid beland. Skande op die huis, om die minste te verwag.

Maar so begin Jesus, met ‘n beker water die mure van stereotipes tussen hom en die vrou afbreek. Kort voor lank deel sy haar lewensverhaal met Jesus en voor sy (en die dorpie) en Jesus hulle oe kon uitvee, is almal se lewens vir goed verander!

Nog ‘n mooi storie wat vertel word is van die wit Anglikaanse priester wat tydens die storm en drang jare van ons land se geskiedenis, met ‘n doodgewone gebaar van hoflikheid die mure van rassisme afgebreek het. ‘n Swart vrou en haar seuntjie stap op die sypaadjie in die rigting van die priester, toe hulle groetafstand van hom is, haal hy sy hoed af en groet haar en haar seun vriendelik. Die seun word groot, hy word ‘n man, hy word ‘n profeet, hy word deel van die revolusie, hy is nogsteeds die gewete van die volk. Die seun is Aardsbiskop Tutu en hy die storie vertel dan besef jy hoe groot ‘n doodgewone groet kan wees.

Dis net tot ons eie nadeel wanneer ons kies om die stereotipes oor die sogenaamde ander in stand te hou. Ons verarm onsself en ontneem ons van die krag van die koms van die Koninkryk van Jesus wanneer ons te gou, te vinning iemand wat nie soos ons lyk, praat en dink nie, in ‘n boksie probeer sit.

Sunday 19 July 2009

Oor Seekoeie, Crocs en Gin 'n tonics.


Tydens ‘n onlangse besoek aan die Kruger Wildtuin het ek net weer opnuut besef: Die mens is kens, stapelgek. Ons het doer bo in die noorde by Pafuri gaan draai en orals waar ons kom is daar waarskuwings dat toeriste asseblief in hul motors moet bly. Die diere is gevaarliker as wat hulle lyk, dis nie Disney World nie, dis Afrika!

So gaan hou ons toe piekniek by Pafuri, heimlik hoopvol dat die allerskaarste visuil sy verskyning sal maak. Na ‘n heerlike en insiggewende kuier saam met Frank Mobasa, Pafuri se voëlguru, vat ons toe die pad al langs die rivierbedding af. Op ‘n kol stop ons by ‘n mooi hoekie sommer teenaan die rivier. Entjie teen die wal af le vier groot krokodille, verder af in die rivier skuil ‘n spul seekoeie van die middagson en oorkant die wal breek ‘n paar takke onder olifant tande.

“Hello darling, do you see any wild animals?” skreeu ‘n botox tannie met ‘n gin en tonic vanuit haar splinter nuwe Prado. “No, only hippos and crocks!” antwoord die bestuurder in die ewe blink Fortuner langs wie sy parkeer het. Gelyk of hulle mekaar ken. “I am going to take a picture” sê die een vir die ander en net daar klim almal in albei voertuie uit, elkeen met ‘n glasie moed in die hand. Een van die dikkes gaan selfs ‘n paar tree teen die wal af sodat hy die hele trop seekoeie kon afneem. Oom Paul draai toe net daar in sy graf om.

Nou help dit seker nie om vir die klomp te verduidelik dat Pafuri luiperdwêreld is nie, dat onder al daardie takke en grasse waarop hulle so lekker met hulle pienk en blou Crocs trap, lê pofadder se kind, net reg om te pik. Dit help ook seker nie om te sê dat die takke wat duskant die rivier kraak ‘n bedonnerde olifantbul is wie tand waarskynlik pyn nie. Of dat seekoeie en krokodille gesamentlik verantwoordelik is vir meer sterfgevalle as malaria nie.

Op pad terug was daar ‘n groot debat onder ons toergeselskap, oor of ons hulle moet raporteer of nie.

Dis nou ‘n catch 22.

Want doen jy dit, dan voel jy soos die poepol. Die antie met die natbroek. Die oompie met die besemstok iewers opgedruk. Dis ‘n vreemde houvas wat die kakaanjaers van die lewe op die wanderlaars van die smal en reguit het. Laasgenoemde sal altyd maar gedwee stilbly, nie klik nie, nie hul mond uitspoel nie, nie daardie oproep maak nie, eerder maar die ander pad kyk en stilweg hoop dat die wiel tog iewers weer gaan draai.

Doen jy dit nou nie, dan word jy deel van die probleem. Selfs op ‘n vreemde manier die oorsaak van die probleem. Jy word ‘n medepligtige. Daar is egter 'n prys wat jy op die ou einde betaal. Wanneer jy ‘n gesteelde sonbril koop, is dit net ‘n winskopie totdat jou kar se radio gesteel word, dan is dit ook nie meer lekker nie. Of neem nou kinders wat by die verkeersligte bedel as ‘n voorbeeld. Elkeen wat ‘n geldjie uithaal omdat hy of sy dink dis die regte ding om te doen, word medepligtig aan die feit dat daardie kind die volgende dag weer daar staan. Jy is dan saam met die kind se vrotsige ouers aanspreeklik vir watter lot die kind daar op die hoek van Voortrekker en watsenaam ookal kan tref. Deur nie die dik tannies met die gin en tonics te raporteer nie, word ‘n baie gevaarlike kultuur van onverskilligheid in stand gehou, eintlik aangemoedig.

Terug by die kamp, wik en weeg ons of ons dit moet doen. Gaan ons dadelik die pot aan die roer kry onder by die tent, of moet ons eers hier bo by ontvangs die dinge roer? Op die ou einde het ons die eerbare ding gedoen, maar ek moet bieg, dit was nie ons goeie gewetens wat ons besluit beinvloed het nie, maar eerder die feit dat die tannie met die gin en tonic se aksent haar herkoms verklap het.

Blêddie Australier, hoop dit sal haar leer..

Wednesday 25 March 2009

'n Groen middelklas



Alhoewel hierdie artikel oor ‘n groen leefstyl gaan is daar niks groen hieraan nie. Ek skryf dit in ‘n koffiewinkel in Secunda, vader alleen weet hoe ek hier beland het. Die “aircon” is op fullblast en dis nie eers warm buite nie. Rondom die dorp is groot torings wat geduring vlamme en rook die lug in blaas, soos die vraag vir energie en krag net groter en groter raak. Die koffie wat ek drink het iewers per skip, vliegtuig of trein hier beland, aan die bitter smaak daarvan weet ek dit prut al die heel dag op ‘n warm plaat. ‘n Paar weke gelede is het Polo 1.4 spoorloos verdwyn (die polisie krap nou nog kop...), sedertdien rits ons rond in ‘n geleende 4X4 3liter monster. My ekologiese voetspoor is vandag onbegryplik groot. Ek gaan ‘n hele boord se bome moet plant as ek môre weer by die huis terug is.

‘n Veldtog getiteld Trees for Africa het ‘n hulpmiddel op hul webblad wat jou help om jou koolstof voetspoor te meet en dan aan die hand daarvan die aantal bome bereken wat jy moet plant om op te maak vir jou ekologiese sondes. Sedert ek en my vrou 7 maande gelede uit Stellenbosch na Jozi verhuis het, staan ons uitstaande ekobalans op -36 bome. Gelukkig is daar (nog nie) ‘n balju wat aan my deur gaan klop met ‘n lasbrief en ‘n paar boeie nie. Plant of betaal is nog lank nie die wet van Transvaal nie.

“Ek het altyd gedink dis my kinders wat daarvan gaan sterf, maar nou besef ek, dit gaan waarskynlik ek wees.” Hierdie woorde van ‘n goeie vriend het my uit my eko-onkunde gedwarsklap. Hy was by ‘n praatjie van die bekende ekoteoloog uit die Kaap, Ernst Conradie. Ernst se teorieë oor die ekokrisis waarbinne die hele wêreld gedompel is, het hom laat besef dat die einde dalk nie se ver is soos wat ons almal heimlik gehoop het nie.

Wat is die probleem? Dis eintlik baie eenvoudig: Te veel mense gebruik te veel goed. In sy nuutste boek “Hot, Flat and Crowded” maak Thomas Friedman hierdie punt baie blatant en die prentjie wat in die eerste paar hoofstukke skilder los jou met ‘n subtiele depressie wat ‘n bietjie verdwyn nadat jy vir ‘n uur of wat ‘n paar grawe kompos in jou groentetuintjie ingewoel het. Hy fokus veral op die massiewe ekonomiese groei wat lande soos China en Indie op die oomblik beleef. Die ekonomiese ressesie wat op die oomblik vir almal ‘n groot realiteit is, sal volgens Friedman vir hierdie lande slegs ‘n spoedhobbel wees. Die ekonoom Mike Schüssler het in Woensdag 25 Maart, se Sake24 iets soortgelyk kwytgeraak, deur te sê dat “mense is nou ryker en meer geleerd is as ooit tevore in die geskiedenis. Hierdie resessie sal ook verbygaan en die mensdom sal weer floreer.” Met ander woorde, miljoene mense sal aanhou beweeg van armoede na ‘n middelklas lewe. En op die oog af is dit mos goed. Ja, verseker, defnitief, altyd. Wanneer mense uit die omstandighede van afhanklikheid beweeg na ‘n lewe van eienaarskap, vryheid en keuses is dit ‘n goeie ding.
Maar dan gaan Friedman verder deur te verduidelik dat die probleem lê by die leefstyl van die middelklas. Almal jaag die Amerikaanse droom na. Kort voor lank het elkeen ‘n yskas,vrieskas, t.v.,rekenaar, toaster, ketel, stoof, verwarmer, geyser, lugversorger en ten minste een motor. Al hierdie goed gebruik natuurlik krag en die krag moet iewers vandaag kom. Huise en woonstelle skiet op soos sampioene, paaie en hoofweë neem die laaste bietjie oopvelde in beslag en op elke hoek en draai ontwikkel ‘n “mall” groter en beter as die vorige een. Die wêreld het nog nooit so baie Amerikaners gesien soos vandag nie. Van Johannenburg tot Cairo, van Casablanca tot Calcutta.

Die Amerikaanse droom is ‘n bliksem, want hoe aanloklik dit ookal lyk, is die aarde nie toegerus vir ons almal om so te leef nie. Maar die eintlike bliksems is die Amerikaners hulself. Want nadat hulle en die res van Europa die voorgereg, hoofgereg en poeding opgevreet het, nooi hulle ons in Afrika, Indië en die res van die agterosse vir ‘n koue koppie “organiese” koffie, maar dan, nog voordat ons koppie leeg gedrink is, vra hulle dat ons die rekening gelykop onder mekaar verdeel. G’n wonder dat genoeg stemme uit die ontwikkelende lande erg vasskop teen die druk wat nou van die voorste lot mededingers af kom dat ons almal eweskielik moet stadiger hardloop. Hoe gaan ons ooit bykom by hulle wat doer voor hardloop?

Maar hier sit ons nou, catch 22. Jaag ons die Amerikaanse droom na, omdat dit ons toekom, gaan ons oor ‘n paar jaar met ‘n skok agterkom dat al die visse in die see gevrek het, al die natuurlike grasvelde, reenwoude, fynbos en bosvelde diep onder beton begrawe is en die reg tot vars, skoon water oornag in ‘n voorreg vir ‘n uitgesoekte groepie rykes verander het. Jaag ons dit nie na nie, dan raak ons agter in ‘n baie mededingende resies waar ouens soos Rusland, China en Indië reeds lankal voet in hoek gesit het, reguit wenpaal toe.

Of dalk is daar ‘n derde weg. ‘n Heel nuwe manier van leef. ‘n Gans andere alternatief, waar die woord “groei” nie net in monetêre terme verstaan word nie, maar geïtegreerd, organies, aards, volhoubaar en verantwoordelik. Wat die wêreld nodig het is ‘n groei in die rigting van ‘n groen middelklas. ‘n Manier wat leef wat waarde toevoeg, wat herstel en opbou en wat weet wanneer is genoeg genoeg.

Hier in Suid-Afrika, waar die lewe vir die mens begin het, het ons, die kinders van die somerreën, die seuns en dogters van die koue Benguella en die warm Mosambiek, die broers en susters van die fynbos en die veld, die medereisigers van die olifant en die leeu, ‘n kans om die wereld te wys hoe hierdie leefstyl lyk. Dit is in ons DNA ingeweef, as ons net kan loskom van die betonkultuur, die “kommin” toskaanse argitektuur en die behoefte om alles behalwe “Afrika” te wees. Ons is bitter ver agter op so baie gebiede en ons ekovoetspoor is so groot soos van grootstes in die wereld, maar as ons net weer die klam grond onder ons voete kan voel, sal ons dalk die wysheid vind wat die wereld kan verander.

Saterdag, 28 Maart is dit Earth Hour. Reg oor die wêreld gaan indiwidue en besighede hulle ligte afsit uit protes teen die verslaafdheid aan koolstofkrag. Deur daaraan deel te neem, wys ons dat ons deel is van die aarde en nie langer dit wil toegooi met plastiek en beton nie.
Sedert my vriend se wilde opmerking, het ek ‘n groente tuintjie begin, met beet, brinjals, basiliekruid, rooi uie, wortels, aarbeie, groen en rooi peper, ertjies en botterbone. ‘n Handvol wurms verander ons weggooi kos in kompos. Ons bere al ons blikkies, glas en plastiek met die plan om te herwin. Ek in die tussentyd deel geword van ‘n gemeenskapgesprek waar ons soveel as moontlik mense wil inspireer om hul middelklas bestaan ‘n groen glans te gee. Nou soek ek nog net ‘n plek vir daai 36 bome...

Monday 09 February 2009

Die reënboog buite “Mrs. Mansfield” se klas


Ek het gister ons huishulp se dogtertjie by die skool gaan haal. Terwyl ek vir haar gewag het, het hordes kinders by my verby gestap, so half en half in rye elke keer as die juffrou kyk, maar almal diep in gesprek met die maatjie langs hulle. Wat my opgeval het is dat die kinders deur ‘n ander bril na mekaar kyk as die bril waardeur ek na die lewe kyk. Ek kyk na hulle en sien skakerings van swart, bruin en wit. Ek hoor Engels, Zulu, Xhosa en hier en daar ‘n bietjie Afrikaans. Maar nie hulle nie. Wanneer hulle praat word Zulu en Xhosa gemeng en met Engels versier. Wit en Swart loop hand om die lyf en wag geduldig vir hul Indiër maatjie om hulle in te haal. Dit is asof hierdie kinders ‘n universiele taal leer praat het, al klink elkeen se woorde anders. Hulle het ‘n gemeenskaplike grond gevind, al ervaar elkeen die oomblik anders as die res. Terwyl ek daar staan met my rug teen die kennisgewing bord, sekondes voor my oog Angelique s’n vind, besef ek dat hierdie kinders ons enigste hoop op ‘n reenboogtoekoms is. Of laat ek dit minder dramaties stel, hierdie kinders is al reeds die realisering van ‘n droom wat lank voor 1994 begin het. Lanklaas het ek so opgewonde gevoel soos vandag. Die gesig van onskuldige kinders wat onbevange die lewe leef, roer enige hart in die rigting van hoop.

Maar op pad terug kar toe, met Angie se tas ongemaklik klein oor my skouer, bevind ek myself toe met gemengde gevoelens. Voor ek myself kon kry het jaloesie iewers in my binneste kom lê, want hierdie mengelmoes van vriendskappe is van my ontneem. Tot vandag toe sukkel ek om diep verhoudings met mense van ander kulture te bou. Ek struikel oor die taal, voel lomp met my humor, trap versigtig oor die landmyne van politieke korrektheid en elke nou en dan eindig ek met my voet in my mond, maar nie hierdie kinders nie. Hulle dra geen bagasie van gister met hul saam nie. Daarom kan hul met mekaar spot en grap sonder om te hoor dat hulle rassisties is. Ek wonder of hulle ooit weet wat die woord beteken? Ek kyk toe eweskielik van buite af na ‘n droom wat my keer op keer net-net ontwyk.

Nadat ek die tas in die kattebak gesit het en die deur vir Angie oopgemaak het, het jaloesie plekgemaak vir wanhoop, want tussen 10j en 28j kan dinge so vinnig verander:
Sipho en Chris stap skouer teen skouer by my verby vol grappe en dinge, by die hek skei hulle paadjies en elkeen verdwyn in sy eie storie in. Sipho se pa wag in ‘n blink nuwe BMW en Chris se ma het vergeet om hom te kom haal. Sipho se pa laai hom vinnig by die huis terwyl hy haastig op pad is na sy volgende direksie vergadering. Op pad huis toe het Sipho die heelpad oor sy nuwe maatjie Chris gepraat, maar sy pa het nie ‘n woord geluister nie, want Zuma was op die radio en sy pa sal soos sy verlangse familievriend, Malema, vir hierdie man moor. Chris het solank begin huis toe stap. By die huis is sy ma in die bed met ‘n ander man. Terwyl die man wie sy skaars ken leweloos woorde van liefde in haar oor hyg, is sy salig onbewus dat oor 15 minute haar oudste seun haar daar gaan vind. Op daardie oomblik wanneer sweet en rook orals in die kamer swaar en donker hang, het sy geen benul dat dit die karakter van haar seun vir ewig sal verander nie.

Jare later sal Sipho deur die bril van sy pa na die wereld kyk, terwyl sy wit laerskoolmaatjie nog steeds sukkel om die woedeuitbarstings wat so dikwels uit die bloute kom en dan net so weer verdwyn, anders te verwoord as in die taal en metafore wat hy weer van sy pa ontvang het.
Daarom wonder ek, is dit wat ek vandag gesien het enigsins volhoubaar? Is die Madiba reënboogdroom net ‘n oomblik van flikkerende hoop wat nooit die ware realiteite van die lewe kan oorleef nie. Was dit wat ek vandag by haar skool gesien dalk my verbeelding? ‘n Projeksie van ‘n prentjie wat binne my leef, maar stadig al hoe dowwer word. As dit is, wat bly dan oor? Waarom dan nog enigsins droom oor ‘n plek waar stories van verskillende kontekste in een groot tappeserie van geleenthede gevleg kan word?

Of was dit meer as net my verbeelding? Miskien net miskien is dit wat ek buite die Graad 4 klas van Mrs. Mansfield ervaar het wat toe al die tyd ‘n reënboog wat deur die gelag en gespeel van kinders ‘n kaleidoskoop van moontlikhede in ons land en in ons harte kom loswoel. Op die oomblik is dit nog ver iewers op ‘n speelgrond aan die anderkant van die draad, maar as ons stop waarmee ons besig is, stilstaan en luister sal ons hoor hoe die gelag al hoe nader kom. Binnekort sal die stemme verstaanbaar word en sal ons sal met ons eie oë sien hoe die grys skakerings van ons wit en swart lewens ingekleur word met die groen kleure van hoop, die blou kleure van vryheid en vrede, die geel kleure van potensiaal en energie en die rooi kleure van daardie ding wat sommige mense liefde noem.

Maandagoggend moet ek haar weer by die skool gaan aflaai, ek kan amper nie wag nie...

Monday 10 November 2008

'n Poedinglepel vol hoop

Om te hoop is soos ‘n poedinglepel wanneer jy aansit by ‘n ete. ‘n Mes en vurk op hul eie, of selfs saam met die kleinbordjie en ‘n servet in die vorm van ‘n swaan, sê eintlik maar net een ding: Rys, vleis en aartappels, hoederpastei, wors en pap, een of ander Huisgenoottreffer, of dalk selfs ma se nuutskepping met roketblare, bokmelkkaas en beet. Alles goed en wel en ek kla nie met die witbrood onder die arm nie, maar nie die mes, of die vurk, of die slaaibordjie, nóg die broodmandjie kan dieselfde kinderlike opgewondenheid in ‘n mens losmaak, soos die gevoel wat binne jou maagwande loskom wanneer jy merk dat daar ook tussen al die ander blinkgoed voor jou, ‘n poedinglepel lê nie.

Dit is in sulke oomblikke dat jy weet dat daar ekstra moeite gemaak is met jou besoek. Daar is verder gedink, fyner beplan, soeter gedroom oor hoe hierdie betrokke ete moet uitdraai. En as die gasheer of gasvrou hulle sout werd is sal daar geen geheim verklap word oor wat op die gaste na die hoofmaal wag nie. Die gaste sal deur die loop van die ete begin wonder, begin uitvra, begin plek maak vir wat ook al in die yskas of in die oond op hul soettand lê en wag.

Dit is ook nie asof die vla nog gemaak moet word nie, ook nie asof die sjokolade mousse nog iewers in sy poeiervorm in die kombuiskas staan en wag nie. Nee, dikwels is die poeding eerste beplan. Dit is selde dat die nagereg net ‘n nagedagtenis is op ‘n goeie aand saam met vriende rondom ‘n tafel, soms is dit selfs asof die aand in daardie rigting opbou. Ja, pa se potjie was weereens uit die boonste rakke, ma se pastoriehoender was soos altyd ‘n wenner en die groente keer dat die kinders skeurbuik kry, maar ai, die melktert en moerkoffie het my laat verlang na my ouma se stories oor die Noord-Kaap en sy mense. Dis mos hoekom ons in die eerste plek deur die spinasie geworstel het!

En so is dit ook met die tafel van die lewe. Net toe ek begin dink het dat 2009 net ‘n mes en vurk gaan opdis vir ‘n maaltyd met vaal afval, opgekookte groente en bloedrooi souserige asyn suur beet, of een van daardie plastiek vurkies en ‘n basaarburger in ‘n take away pakkie,of nog erger, net die “left-overs” van 2008, toe dek die lewe vir ons ‘n poedinglepel.

Noem dit Barack Obama, noem dit die Shikota Express, noem dit Ruan Pienaar op loskakel. Noem dit wat jy wil, maar ek noem dit hoop. Nou ek weet op hierdie punt raak-raak ek meer aan die Amerikaanspolitiesgekaapte weergawe van ‘n baie antieke Bron van nuwe lewenskrag, maar vandag gee ek nie om nie. Die “hipe” het my beet.
Die vuurperdewa van nuwe moontlikhede het my ‘n ekstra kaartjie present gegee en ek gaan hierdie trein ry totdat dit my afgooi. Hopelik hou dit langer as die naweek se rugby, ‘n bietjie verder as volgende jaar se verkiesing en dalk as ek gelukkig is, sommer tot by die begin van die nuwe termyn van die volgende VSA president. Daar is nuwe lewe wat in my are borrel. Dit is asof ek nie genoeg gelees, ge-google, ge-youtube, ge-blog, ge-iziko, ge-braaivleis, gepraat en gehoop kry oor die jaar van onse Heer 2009 nie.

Wat die huidige bord kos aanbetref is 2008 amper afgedek. Die ANC het hul morele hoërgrond verruil vir ‘n stortkop en ‘n masjiengeweer, maar uit die gemors het nuwe stemme my frustrasies begin verwoord. Hierdie stemme is goddank swart! Die veranderinge wat reeds gebeur het en dit wat hopelik dalk nog gaan kom het my as jong, blanke man, ironies genoeg, weer ‘n stem gegee. Vir die eerste keer in ‘n lang tyd voel ek weer deel van die groot gesprek. Ek kan nou weer deelneem aan die hoofdebat, sonder om te voel ek offer myself op as gevolg van die foute van my Vaders. Ek kan deel wees van die vryheidsvegters, sonder om ‘n comrade te wees. Ek kan kla oor die omgekeerde rassisme, sonder te voel dit is die ou apartheidspropaganda wat nog in my leef. Ek kan hoop op ‘n land waar kinders in die strate speel en families vreesloos feesvier, sonder om te hoor ek klou halstarrig aan die verlede vas.

Met die lepel nog net so op sy plek skep ek nuwe moed vir die groente op my bord. Ek druk my vurk met nuwe hoop in die 2010 Wereldbeker, Gautrein, die verkeer op die snelweë, die bendes op die vlaktes, Steve, Jurie en die Huisgenootvoorblaaie, Helium De Villiers en sy polisiesnor, Earl Rose, die Springbokembleem, ons goeie vriend Luke, my bankkostes, die hoë rentekoerse, die brandstofpryse, die huispryse, die wêreldekonomie, Eskom, Telkom, Cosatu en die ANC se blatante rassisme, Zuma se weermagliedjie, Malema en sy trawante, Mugabe en al die ander jakkalse, klein en groot wat die lewe vir ons gewone sterflinge so deksels bitter maak.

Danksy die bogenoemde is die poeding nog ‘n hele paar brusselse spruite ver, maar sodra daardie bak met tipsy tert en vla voor my beland, beplan ek om te skep en sommer lekker diep ook.

Monday 13 October 2008

'n Pelgrim met goeie nuus

Ek hoor dikwels die “reeds-baie-holrug-geryde, maar-tog-spyker-op-die-kop-waar” stelling : Christene is fake. “Julle leef nie wat julle verkondig nie. Voor die dominee is julle heilig, maar by die braai is jy vol grappies. Die manier hoe julle oor God praat klink oud en oor sy vervaldatum, soos melk in ‘n straatkaffeeyskas. Die God waarvan julle sing en bid het iewers duskant die 325 afgetree, of 6000 jaar gelede opgehou skep. Volgens julle rus Hy nou...”

Maar dalk is die probleem nie individuele Christene nie (in elkgeval nie die hele lot nie), maar eerder die paradigma waarin Christene hul geloof probeer verwoord het en die gebrek aan goeie, bevrydende intellektuele leiding, wat ons gebring het tot waar ons nou is.

Die kerk was eens op ‘n tyd die intellektuele pasaangewer in ‘n donker wêreld vol bygelowe en vrese. Totdat die mense begin droom en ontdek het. Copernicus, Columbus, Descartes en Darwin het met nuwe stories, metafore, idees en feite vorendag gekom. Later, met die koms van die drukpers, die opbloei in die wetenskap en die vooruitgang in die moderne wêreld, het gewone mense in universiteite, laboratoriums, skole en agter hul lessenaars die intellektuele pasaangewers en die skeppers van nuwe waarhede vir ‘n nuwe wêreld geword. En toe bly die kerk agter, vasgevang in ‘n premoderne wêreld (waar God nogsteeds ver bo in die hemel is en die hel iewers onder die aarde vol swael en rook en duiwels met rooi vurke) en vir ewig in ‘n stryd met modernisme gedompel.

Maar nou het ons by ‘n keerpunt gekom. Die kerk het kanker, terminaal. Reg oor die wêreld is die Christenlike paradigma besig om uit te sterf. Al hoe minder mense het die kerk op hul daaglikse agenda.
Hoekom?

Want die kerk se sondes het haar ingehaal. Jare se lugkastele in ‘n wêreld vol fenomenale feite. Jare se morele hoogmoed in 'n wêreld desperaat opsoek na egtheid en medemenslikheid. Jare se rigiede religie in wêreld opsoek na spontane spirituele intimiteit. Jare se binnegevegte oor toga tossels, nagmaalkelkies, preekstoelpreke, belydenisskrifte, kerkraadsgetalle en pastorieaanbouings (om nie eens te praat van die bloedige stryd namems die vrou, die tiener, die gay en die andersgekleurde opsoek na ‘n menswaardige plek in die kerk behalwe agter in die kombuis, onder in ‘n gat in kerksaal, of iewers agter in die kerk se tuin!)

Maar meer nog sien ons dat mense nie meer ‘n behoefte aan georganiseerde kerk het nie want hul daaglikse lewens is vol wonderlike alledaagse oomblikke met “God”. Daagliks in treine, taxis, kantore, golfbane, pretparke, wynplase, toneelstukke, kunstefeeste, musiekvertonings, kampeertereine, kombuise, eetkamers, slaapkamers en groentetuine ontmoet mense die lewende Skepper Gees. Dalk is dit wat Jesus vir die kerk probeer wys het: Dat die wêreld die speelplek van God geword het. Die markplein is nou die tempel en as die kerk die vars voetspore van God wil sien en volg, gaan die beste plek om dit te ontdek nie in die religieuse ruimtes wees nie, maar eerder in die doen en lates van gewone mense. Ongestruktureerd, ongeorden, ongepas.

So ‘n kerk (indien die woord nog van waarde is) gee sy titel, status, sekuriteit en mag van die ou bedeling prys en waag dit agter hierdie vreemde voetspore aan.

Hoekom en hoe sou die markplein hierby baatvind?

Want die markplein is altyd opsoek na medereisigers, na pelgrims met goeie nuus. Gesprekgenote opsoek na nuwe insigte, idees, opinies, riglyne en bevrydende waarhede. Deur die eeue pelgrims en reisigers in die markpleine van die antieke stede hul verhale en stories met gewone mense gedeel. Staan dit nie iewers dat die kerk ‘n reisiger en ‘n pelgrim is wat keer op keer terugkeer met goeie nuus nie? Op ander plekke word hierdie goeie nuus met hoofletters geskryf, want die draers en die hoorders daarvan het dit waarlik as 'n bevrydende waarhede beleef. Nie omdat dit (soos dikwels vandag) in abstrakte dogmatiese terme vertel is nie, maar eerder in menslike stories van 'n Persoon wat alle stereotipes en vooroordele oor die lewe kom afbreek het en selfs tot in die dood hierdie "Way of Life" geleef het. 'n Deur het oopgegaan, 'n nuwe manier van dink oor die lewe het aangebreek, intimiteit met die Skepper Gees het moontlik geword, 'n lewe wat geen einde ken nie is binne ons bereik.

Klink vir my soos iets waarin ek kan glo.

Dalk het dit tyd geword dat die kerk (soos die meeste van ons dit vandag ken en beleef) haar goed optel en loop...